Charlie

Paul het lank gewag vir hierdie oomblik—’n ontsnapping wat tot in die fynste besonderhede beplan is. Met Charlie, ’n geharde oorlogsveteraan in ’n rolstoel, wat die pad aanwys, is vryheid uiteindelik binne bereik. Maar soos die plan ontvou, begin die grense tussen werklikheid en illusie vervaag…

#spanning #flitsverhaal

1,095 woorde / 4 bladsye / 4-7 minute leestyd

Charlie

Deur Marinda Kotze

“Paul! Staan op! Dis tyd.” Charlie se stem is vlak by my gesig. Ek gooi dadelik my kombers van my af ek kom orent. Ons beplan al weke aan hierdie oggend.

“Ek is gereed. Hoe laat is dit?” vra ek terwyl ek tas na my bril op die bedkassie.

“Kwart oor ses,” sê Charlie. Die oggend se eerste sonstrale flits oor hom soos wat hy homself in sy rolstoel ‘n entjie wegstoot van my af. Die kamer se enigste venster is ‘n reghoek bo ons, toegeweef met traliewerk en stof wat niemand meer omgee om skoon te maak nie.

“Kom ons gaan weer oor die plan,” sê Charlie. Hy vryf sy hande stadig oor sy bobene, van sy heupe af tot by die stomp rondings net bo waar sy knieë eens was. Hy was in die weermag gewees. Op ‘n landmyn getrap in Namibië. Ek het ook diensplig gedoen, maar ek het vir Intelligensie gewerk.

Charlie ken hierdie hospitaal soos die palm van sy hand. Niemand weet beter as hy hoe om hier uit te ontsnap nie.

“Ses-dertig gaan die verpleër hier inkom met ons ontbyt,” sê Charlie. “Ek sal by die deur wag en sy pad blokkeer terwyl jy hom oor die kop slaan met die stoel.” Charlie wys na die hout stoel wat teen die bedkassie staan. “Dan vat jy sy sleutels, en dan gaat ons!” Charlie glimlag breed aan die einde van sy sin. Sy geel-en-bruin tande blink soos spoelklippies in die oggendlig.

Hy is so paar weke terug na my kamer toe oorgeplaas. Die matrone het gesê dat die hospitaal ekstra vol is op die oomblik en dus moes hulle pasiënte rondskuif om plek te maak.

“En Stippel?” vra ek. Charlie se kat, Stippel, hoor sy naam en kom stert-in-die-lug na my toe aangestap.

“Ek sal hom op my skoot vashou terwyl jy my stoot,” sê Charlie.

Die skril gepiep van ‘n staal trollie wat in die gang afgestoot word roep ons altwee tot aandag.

“Dis tyd,” sê Charlie en stoot homself tot teenaan die muur, sodat hy agter die deur sal wees wanneer die oopgemaak word.

Stippel volg sy baas en spring op Charlie se skoot.

Die trollie stop elke nou en dan waarna ‘n bos sleutels klingel, ‘n deur oopgesluit word, die koffiekan opgetel en weer neergesit word, en plastiek skinkborde opgetel en aangeskuif word. Soms hoor mens ‘n paar woorde se gesels voor die roetine herhaal.

Die opwagting is te veel vir my. Ek staan op en begin heen-en-weer stap tussen my en Charlie se beddens. Ek wens daar was ‘n makliker manier vir die Organisasie om my hier uit te kry.

Die trollie stop uiteindelik voor ons deur.

Ek beweeg vinnig weer terug na die stoel toe. Ek tel dit op, maar sit dit dan weer vinnig neer. Ek moet dit nie nou al op tel nie.

Ek gaan sit op my bed en vee my sweterige hande aan my broek af.

’n Sleutel word met mening in die staaldeur ingedwing en draai een, twee, drie, vier, vyf, ses keer voordat die deur met geweld oopgeswaai word.

Die verpleër is ‘n seningrige middeljarige man. Sonder om op te kyk begin hy ons koffie en ontbyt gereedmaak op die trollie. Ek staan stadig op en gaan staan voor die stoel.

Die verpleër stap die kamer binne met ‘n skinkbord in sy hande, “Goeiemôre Paultjie. Lekker geslaap?” vra hy.

Ek wil nie eintlik oogkontak maak met hom nie, en mompel net saggies, “Ja dankie.”

Skuins agter die verpleër sit Charlie in sy rolstoel en kyk stip na my. Woordeloos beduie hy vir my: Nou!

Ek spring dadelik om, gryp die stoel en hys dit in die lug op. Die stoel is ligter as was wat ek verwag het en vlieg amper uit my hande uit.

Met alles wat ek het swaai ek die stoel deur die lug in die verpleër se rigting.

“Paultjie!” skree die verpleër en koes met sy arms. Maar dis net-net te laat. Een van die stoel se pote het hom teen sy voorkop getref. Die verpleër strompel weg van my af.

“Nog ‘n keer!” roep Charlie.

Ek wil nie. Maar ek moet.

Ek swaai die stoel wyd deur die lug. Die keer tref dit hom teen die skouer. Hy kreun van die pyn en val teen die muur neer met sy arms voor sy gesig.

“Asseblief Paultjie, nee!” pleit die verpleër.

Ek buk af om die bos sleutels van sy se heup los te maak. Hy skram verder terug in vrees maar ek het klaar die sleutels by hom afgevat.

“Gee hom nog ‘n hou,” sis Charlie.

Ek aarsel vir ‘n oomblik. ‘n Sny op die verpleër se voorkop begin bloei.

“Nee, nou vat jy te lank! Hoekom die Organisasie jou wil terug hê weet ek nie. Kom, ons het nie meer baie tyd oor nie,” sê Charlie en stoot homself solank by die deur uit.

Ek hardloop agterna en begin hom verder in die gang af stoot.

“Reguit vorentoe,” beduie Charlie met een arm terwyl hy Stippel styf vashou met sy ander arm. “Daar is ‘n hysbak hier naby waarmee ons moet afgaan.”

“Stop!” skree ‘n man van vêr af.

Die bos sleutels wip luidrugtig op-en-af in my broeksak soos wat ek vinniger hardloop.

Swaar voetstappe weergalm vanuit beide kante van die gang. Maar ek het dit gemaak. Een van die oranje hysbakke se deure ruk-ruk stadig oop voor my. Afgedopte verf versier die kosyne van die hysbakdeure soos dooie rankplante in ‘n dorre tuin.

Die matrone stap by die hysbak uit. Ek probeer haar verby vat, maar twee pare sterk hande gryp my arms en trek my terug.

“Paul,” sê die matrone, “ek weet jy is teleurgesteld dat jou familie nie die naweek vir jou kon kom kuier nie…”

“Die Organisasie het my weer nodig. Ek moet gaan!” sê ek. Die matrone verstaan nie hoe krities die situasie is nie. “Vra vir Charlie. Hulle het hom gestuur om my te kom haal.”

Die Matrone sug en kyk na Charlie in die rolstoel tussen ons, “Paul. Daar is niemand in die rolstoel nie.”

Ek kyk af na die rolstoel.

Dis leeg.

“Maar…waarheen is hy dan nou?” Ek kyk verbouereerd om my rond. Het iemand ‘n poets op my gebak?

Twee mans begelei my terug na my kamer toe. “Moenie vir my sê dit was alles in my verbeelding nie. Hy en sy kat was so werklik soos julle twee nou is,” protesteer ek.

Een van die mans draai na my toe en sê: “Jy hoef dit nie aan ons te verduidelik nie. Ons verstaan.”


© Marinda Kotze, 2024

Kontak my:
Kontak my gerus via epos by marinda@marindakotze.com indien jy enige navrae het of iets met my wil deel.


Sluit by my nuusbrief aan:

Indien jy daarin belangstel om meer van my Afrikaanse stories te hoor, oorweeg dit asseblief om in te teken op my Afrikaanse nuusbrief. Ek stuur net ‘n e-pos wanneer ek iets belangriks het om te vertel!

Bonusinhoud vir Charlie:

Speellys vir Charlie:

Blogplasings oor Charlie:

AFRI-Allegaartjie: ‘n Kortverhaalbundel

[Scroll down for the English translation of this post] Twee van my kortverhale, “Ontkoppel” en “Charlie”, is in Ns. Skrywershuis se nuwe kortverhaalbundel, AFRI-Allegaartjie, gepubliseer. In 2023 en 2024 het Ns. Skrywershuis via hul tydskrif, Naskrif, ‘n kortverhaalkompetisie op hul Facebookblad gehad wat lesers uitgedaag het om kortverhale te skryf na aanleiding van fotobeelde. Ek…

The Month of Two Charlies

Two of my stories have been accepted for publication this month – both titled Charlie (because I had a bit of an obsession with the name thanks to Skunk Anansie’s song Charlie Big Potato). The first Charlie is an Afrikaans short story that was published by Naskrif magazine. It was inspired by the above photo…

Leave a comment