Die Bure

Anton moet in die bure se geheimsinnige erf rondsoek vir ‘n paar verlore krieketballe. Maar wat is nog alles versteek op hierdie ou, verlate erf?

#riller #flitsverhaal

1,023 woorde / 4 bladsye / 5-8 minute leestyd

Die Bure

Deur Marinda Kotze

Na die sesde krieketbal oor die muur geslaan is, moes die drie broers vir eers hul spel staak.

“Dit was ons laaste bal! Dammit Tewie!” sê Jako vir sy jongste boetjie.

“Ek is jammer, dit was ‘n ongeluk.” Tewie se mondhoeke trek afwaarts asof hy wil begin huil. Hy laat val die krieketkolf in die sagte gras langs hom neer.

“Wat doen ons nou?” vra Anton, die middelste kind.

“Wel, iemand gaan die balle moet gaan haal natuurlik. Maar daai iemand gaan nie ek wees nie, want ek weet hoe om te bat en het nie een van mý balle oor die muur geslaan nie. So dis tussen julle twee,” sê Jako.

“Wat!” skree Tewie en Anton gelyk.

“Dis nie fair nie,” sê Anton.

“Ek is te klein, ek gaan vir ma sê!” neul Tewie.

“Het ma nie gesê dat die huis langsaan leegstaan nie? Hoe gaan ons dan die balle kry?” vra Anton.

“Julle kan oor die muur klim. Hier behoort ‘n goeie plek vir dit te wees,” Jako wys na ‘n deel van die baksteenmuur waar ‘n dik perskeboomtak van die bure se erf oor die muur hang. “Ek gaan kry gou die leer.”

Voor Tewie of Anton nog verder kon stry verdwyn Jako in die motorhuis in om hul pa se leer te gaan haal.

Anton kyk na sy Casio horlosie. Dis vyf-uur, wat beteken dat hulle hoogstens ‘n halfuur het voor hul ouers by die huis sal aankom. Hul pa gaan verseker met hulle raas as hy moet hoor dat hulle al ses krieketballe weggeslaan het binne die eerste paar dae wat hulle in die nuwe huis ingetrek het.

Anton het sy ma-hulle al hoor praat oor die huis langsaan. Al wat hy kon uitmaak is dat die erf al vir lank leegstaan. Oorspronklik het die huis aan twee oujongnooi susters behoort. Hulle het hul hele lewe in die huis gebly en is in die jare negentig kort na mekaar oorlede. Sedertdien het ‘n hele klomp families al in die huis ingetrek, maar niemand bly ooit lank nie. Niemand weet wie die huis nou besit nie.

“Oraait, wel dit voel stewig genoeg,” sê Jako terwyl hy die leer staanmaak teen die muur.

“Toemaar Tewie, ek sal gaan,” sê Anton. “Bly hier en dan vang jy die balle soos ek hulle oorgooi, regso?”

“Dankie Anton, ek maak so,” sê Tewie saggies.

“Toe, toe, maak gou,” sê Jako vir Anton.

Anton klim met die leer op tot bo-op die muur en klouter versigtig met die boom af tot in die bure se erf.

Drie krieket balle lê ‘n paar treë van die boom af op ‘n kol droë gras. Anton gooi die balle een vir een oor en begin dan soek vir die res.

Die huis is omring met bome wat net hier en daar spatseltjies sonlig deurlaat. ‘n Immergroen rankplant het alreeds helfte van die agterstoep oorgeneem en is oppad om deur te breek na die res van die huis. Mos bedek die baksteen en klip oppervlaktes, insluitend die dakteëls, die baksteen trappe wat na die agterstoep toe lei en die klip paadjie wat kronkel deur die tuin.

Anton sien die vierde krieketbal in ‘n leë visdammetjie en draf vinnig soontoe om dit te gaan haal.

“Goed, net twee oor,” sê Anton vir homself.

In die vêrste hoek van die erf staan ‘n wasgoedlyn met twee verslete rokke daaraan vasgepen. Duskant die wasgoedlyn sien Anton die vyfde krieketbal.

Net soos wat hy buk om die bal op te tel, verbeel hy homself dat hy ‘n geluid hoor vanuit die huis.

Hy staan vir ‘n oomblik stil om te wag vir ‘n herhaling van die geluid, maar dis doodstil.

“Dis net die wind,” sê Anton vir homself.

Hy begin met meer haas soek na die laaste bal. Hy soek orals, rondom die tuinhuisie, agter die motorhuis, in digbeboste beddings, en tussen rye roosbome. Daar is geen teken van die sesde bal nie.

Die enigste plek wat oorbly is die huis.

Huiwerig begin Anton die mosbedekte trappies uitklim na die agterstoep. Met elke tree trap hy ‘n paar dooie blare plat wat op die trappies verstrooi is.

Net voordat hy die laaste tree gee om op die stoep te kom hoor hy weer iets.

Anton wag ‘n paar oomblikke voor hy verder beweeg.

Was dit die kraakgeluid van ‘n houtvloer? Nee, seker net die wind wat deur die bome waai, dink Anton.

Die stoep is leeg behalwe vir twee houtstoele wat effe na mekaar toe gedraai is.

Die agterdeur is toe, maar die venster langsaan is op ‘n skrefie oop. Anton stoot die venster wyer oop en moet op sy tone staan om by die venster te kan inloer.

Dit is aanvanklik te donker binne die huis vir Anton om enige iets te sien, maar na ‘n paar oomblikke begin sy oë aan die donkerte gewoond raak.

Dit is duidelik ‘n kombuis waarna hy kyk, want hy sien ‘n groot ou yskas en rye kaste aan die een kant van die vertrek. Anton skuifel bietjie na regs om ‘n beter uitsig van die res van die kombuis te kry.

Dit is toe dat hy hulle sien.

By ‘n klein kombuistafeltjie sit twee ou tannies en tee drink.

Hulle gesels saggies met mekaar. Anton is amper seker hy het iets gehoor van die roosbome wat weer ‘n snoei kort.

Anton skrik so groot dat hy onwillekeurig effens gil.

Die twee tannies draai gelyktydig stadig hul koppe na Anton en gluur hom aan asof hy hoogs ongemanierd is om hulle só te pla terwyl hulle ‘n koppie tee probeer geniet.

Anton strompel agteruit, val amper by die trappe af, kom weer orent en begin so vinnig as moontlik hardloop na die perskeboom.

Maar iets gryp aan sy hemp en trek hom terug.  

Dis ‘n roosboomtak wat lanklaas aandag gekry het.

Anton trek sy hemp los en voltooi die roete terug na die boom en oor die muur in etlike sekondes.

“Wat het jou so lank gevat? En waar is die laaste bal? Ek tel net vyf hier!” vra Jako ongeduldig.

Uitasem retireer Anton verder weg van die muur.

“Glo my, daai bal is weg!”


© Marinda Kotze, 2025

Kontak my:
Kontak my gerus via epos by marinda@marindakotze.com indien jy enige navrae het of iets met my wil deel.


Sluit by my nuusbrief aan:

Indien jy daarin belangstel om meer van my Afrikaanse stories te hoor, oorweeg dit asseblief om in te teken op my Afrikaanse nuusbrief. Ek stuur net ‘n e-pos wanneer ek iets belangriks het om te vertel!