Die Tydgestikte Klerekas

Toe Henna en haar ma by haar vergeetagtige ouma intrek, voel die ou huis reeds vreemd. Maar wanneer Henna ’n paar pantoffels in die klerekas moet gaan soek, ontdek sy dat sommige deure verder oopgaan as wat ’n mens sou verwag…

#fantasie #flitsverhaal

2,079 woorde / 7 bladsye / 10-15 minute leestyd

Die Tydgestikte Klerekas

Deur Marinda Kotze

“Onthou, Henna, Ouma se geheue is nie meer so goed nie, en sy kan soms ’n bietjie… vreemd optree. Wees net geduldig met haar.”

“Ek verstaan,” sê Henna. Sy het haar ouma, wie se naam ook Henna is, nog net ‘n paar keer gesien. Maar toe Ouma Henna al hoe meer dinge begin vergeet het, het haar ma besluit dat dit beter sou wees vir hulle om by Ouma in te trek, sodat hulle haar kon help met takies in die huis en na haar kon omsien.

Henna se ma lui die voordeurklokkie. ‘n Klingel weergalm diep binne in die huis, maar andersins is dit doodstil.

Henna se ma sug. Dis dieselfde moeë-gefrustreerde sug wat Henna die afgelope paar maande al so goed ken.

Ouma Henna se huis is ouer as enige huis waarin sy al ooit gebly het. Die bakstene lyk of hulle sagkens in die grond insak, en die vensters het ‘n dowwe skynsel asof hulle jare laas gewas is.

“Hoe oud is hierdie huis, Ma?” vra Henna.

“Báie oud. Ouma Henna het hier grootgeword. Sy bly al haar hele lewe lank hier.”

‘n Koue windjie fluister deur die wilgerboom langs die huis en sny deur Henna se klere.

Net toe haar ma die klokkie vir die tweede keer wil lui, draai die voordeur se handvatsel en die deur swaai oop met ‘n eentonige gedreun. Ouma Henna se brose gesig het ‘n effe verbaasde uitdrukking, maar sy lyk bly om vir Henna en haar ma te sien. Haar silwer hare is vasgebind in ’n slordige bolla, amper asof sy dit gedoen het sonder om in die spieël te kyk.

“Oê, hallo daar,” sê Ouma Henna huiwerig.

“Hallo Mamma, dis ons. Ons gaan so bietjie by Ma kom bly. Ons het mos so ooreengekom op die foon,” sê Henna se ma.

Ouma Henna staar vir ‘n oomblik half verby hulle, dan helder haar gesig op. “O ja. Ja, ja, natuurlik. Kom binne.”

Henna tel haar swaar tas op en volg haar ma die huis binne. Die huis ruik na stof, kamferroom en ou lap. Hulle stap deur die ingangsportaal na die spaarkamer verder af in die gang. Ouma Henna se ou Singer-naaimasjien staan op ‘n tafel in die hoek, toegevou in ‘n plastieksak. ‘n Klererak vol stofbedekte rokke hang voor die venster. Teen die muur is rakke vol speldekussings, bottels vol knope en kopspelde, en garetolletjies in ou roomysbakke.

“Ouma Henna was ‘n klereontwerper en rokmaker,” sê Henna se ma terwyl sy hul tasse op die bed neersit. “Sy het kompetisies gewen en rokke gemaak vir bekendes.”

Ouma Henna skuifel kaalvoet in die teëlgang af en prewel iets vir haarself.

“Ma? Kry jou voete nie koud nie? Kom sit bietjie in die sonkamer, dan maak ek vir ons tee. Henna, gaan haal asseblief Ouma se pantoffels. Dit behoort in haar klerekas te wees—die laaste kamer aan die linkerkant.”

“Natuurlik, Mams,” sê Henna.

“My pienkes, asseblief,” fluister Ouma Henna.

“Regso, Ouma,” sê Henna en stap na Ouma se slaapkamer.

Die deur na Ouma se slaapkamer staan half oop. Henna loer eers by die deur in voordat sy instap. Die kamer is koud, donker en bedompig. Die bed is onopgemaak, en ‘n televisie in die hoek van die kamer speel geluidloos ‘n episode van ‘n ou sepie.

Die houtklerekas staan teen die muur. Henna maak die klerekas se deur oop. Die fyn reuk van parfuum gemeng met die skerp reuk van motgif rol oor haar—dit laat skoon haar neus kriewel.

“Mmm… waar is julle, pienk pantoffels?”

Die klerekas is propvol klere, en die kas se bodem is bedek met ‘n stewige hoop ou skoene. Henna buk en soek tussen hulle, maar kry alles behalwe pantoffels. Dit lyk of meeste van die skoene hoëhakskoene is, met ‘n paar stewels, tekkies en sandale hier en daar tussenin.

“Hulle moet tog hier êrens wees,” mompel sy. Henna grawe rond in die hoop skoene, maar kry steeds niks nie. Dan sien sy die punt van ‘n wollerige pienk skoen diep in die kas.

Sy rek haar arm om by die pantoffel uit te kom, maar haar vingers mis net-net die punt van die skoen. “Ag.”

Henna maak vir haarself ’n smal opening tussen die klere en klim versigtig in die kas. Sy trap so liggies as moontlik bo-op die skoene, maar die massa klere maak dit amper onmoontlik om te beweeg. Die rokke, jasse, kerkklere en nagrokke vou om haar—warm en swaar—byna asof hulle haar dieper in die kas in druk. Sy probeer terugstoot, maar die klere gee nie mee nie. Sy probeer ‘n vastrapplek vind, maar haar regtervoet trap skeef op ‘n dik stewel en sy struikel vooroor, nóg dieper die kas binne.

Kraaaaak.

Die kasdeur swaai meteens toe agter haar. Alles word pikdonker om haar.

“Mamma! Ouma! Help! Ek sit vas!” gil Henna.

Behalwe vir die wilde geklop van haar eie hart, is dit doodstil.

“Help! Ek is hier! In die kas!”

Niemand antwoord nie.

Henna probeer orent kom, maar val net verder, dieper in die kas in.

Dan sien sy ‘n fyn skrefie lig ‘n entjie voor haar. Verlig kruip sy daarna toe op hande en knieë. Wanneer sy by die skrefie kom, besef sy dit is ‘n deur. Sy stoot dit oop en gly by die kas uit. Sy rol oor ‘n houtvloer en bots teen die kant van ‘n bed vas. Henna kom stadig op haar voete.

“Wat op dees aarde…?”

Sy is in ‘n slaapkamer. ‘n Slaapkamer wat nogal baie lyk soos haar ouma s’n. Maar tog lyk dit anders. Die vloer is bedek met houtblokkies, nie teëls nie. Die bed is netjies opgemaak en die televisie is weg. Die vertrek voel aangenaam warm en sonnig, en in plaas van die kamfer, stof en motgif reuke is daar ‘n soet, gemmer en kaneel reuk wat in die lug hang.

“Henna! Waar is jy?” ‘n Vrou se stem weergalm deur die gang net buite die slaapkamer.

Henna kyk verskrik rond. Wie is dit en hoe weet hulle ek is hier?

Die kamerdeur swaai oop. ‘n Vrou steek haar kop by die kamer in en kyk reguit vir Henna. Henna hou haar asem op en staar verstar na die vrou. Sy kan nie ‘n woord uitkry nie, selfs al kon sy dink aan iets om te sê. Maar die vrou kyk regdeur haar, asof sy onsigbaar is. Die vrou kyk vlugtig deur die res van die vertrek en loop dan weg.

Henna se skouers sak en sy gee ‘n sug van verligting. Dis vreemd. Het sy my dan nie gesien nie? Sy moes my tog gesien het.

“Ek is hier, Mamma! In die sitkamer!” roep ‘n jong meisie iewers.

Henna gryp die kas se handvatsel en stoei om dit oop te kry. Die deur kreun effens, maar dit is tevergeefs. Die kasdeur is styf toe.

“Kom proe die gemmerkoekies. Ek het dit nou net uit die oond gehaal,” sê die vrou êrens in die huis. Henna hoor die geskuif van ‘n stoel en voetstappe wat oor die houtvloer weergalm.

“Oê, gemmerkoekies! My gunsteling!” sê ‘n meisie.

Henna stap versigtig by die slaapkamer uit. Waar is ek? By die bure? Miskien moet ek myself gaan voorstel en vir die mense verduidelik wat gebeur het. Of dalk moet ek net stilletjies uitsluip by die voordeur?

Elke tree wat sy gee laat die houtblokkievloer onder haar skoene kreun en kraak. Dit lyk asof die res van die huis amper presies uitgelê is soos haar ouma se huis. Die gang strek al die pad tot by die voordeur.

Net voor sy by die voordeur kom, hoor Henna iets kleins val en rol oor die vloer tot by haar voete. Dit is ‘n pienk knoop. Henna tel dit op en kyk op. In die sitkamer, op ’n bank, sit ’n jong meisie met ’n laprokkie op haar skoot, en ’n naald en gare tussen haar vingers. Sy kyk op—reguit na Henna.

“My knoop! Dankie, ek verloor hulle heeltyd,” sê sy met ’n glimlag.

“Uhm…” Henna staan verbouereerd in die gang, nie seker wat om te sê of doen nie.

“Kom sit gerus!” sê die meisie en klop op die oop spasie langs haar.

Henna stap stadig nader. Die meisie lyk amper presies soos sy. Behalwe dat sy ‘n effe oudmodiese rok aan het is haar hare presies dieselfde goud-bruin kleur, en haar neus is dieselfde kort, fyn vorm as Henna s’n.

“Ek sukkel so met hierdie knope,” sê die meisie en sug.

“Wat maak jy?” vra Henna.

“Ek maak rokke vir al my ou poppe,” antwoord die meisie en wys na ‘n ry lap- en porseleinpoppe wat almal deftig aangetrek is in mooi rokkies. “Ek is mal oor naaldwerk en veral om rokke te maak. Ek wil eendag ‘n modeontwerper wees.” ‘n Pienk gloei verskyn oor haar wange.

“Die rokkies is baie mooi. Jy is baie talentvol,” sê Henna sag. “Ek wens ek kon sulke mooi rokke maak.”

“Dankie. Dis eintlik makliker as wat jy dink. As jy eers die basiese goed ken, kan jy amper enige iets maak wat jy wil,” sê die meisie terwyl sy die knoop aan die rokkie werk.

“Henna!” roep die vrou weer uit die kombuis.

Henna skrik. Hoekom hou hierdie vrou aan om my te roep?

Henna probeer nog iets sê toe die meisie antwoord: “Ja mamma?”

“Aandete is amper reg. Kom dek asseblief die tafel.”

“Reg mamma, ek maak so,” Die meisie staan op en sit haar naaldwerk neer. “Wel, ek moet ongelukkig nou gaan, en ek dink dis tyd dat jy huis toe te gaan.”

“Hoe weet jy…?”

Die meisie tel ‘n bottel vol knope van die koffietafel op, haal ‘n blink smaraggroen knoop uit en plaas dit in Henna se hand. “Vat hierdie ene. Dis my gunsteling.”

Henna vou haar vingers oor die koel, gladde rondings van die knoop.

“Dankie dat jy my geselskap gehou het,” sê die meisie. “Kom, ek stap saam met jou.”

Soos wat Henna opstaan, sien sy ‘n opgevoude koerant op die koffietafel lê. Dit lyk soos enige ander gewone koerant, maar dan val iets eienaardig haar op. Die datum, gedruk op die regterkantse hoek van die voorblad is 3 April 1959. Henna steek vas en staar na die koerant. Maar hoe is dit moontlik? Is ek… in die verlede?

Stomgeslaan volg Henna die meisie gang af. In die slaapkamer maak die meisie die klerekasdeur oop.

“Dit was lekker om met jou te gesels. Hopelik maak ons gou weer so. Ek dink ons het baie in gemeen.”

“Ja, ek… ek dink ook so,” fluister Henna.

“Totsiens, Henna,” sê die meisie en wink vir haar.

Henna stoot van die klere weg wat aan die reling hang en klim in die kas. Die klere vou om haar. Terwyl sy oor die hoop skoene klouter hoor sy die klerekasdeur agter haar toegaan met ‘n knipgeluid. Dis stikdonker. Dan kruip sy effens verder en sien ‘n fyn streep lig ‘n entjie voor haar. Sy beur voort, stoot die deur voor haar oop en tuimel oor die skoene uit die kas uit. Twee pienk pantoffels val saam met haar uit die kas uit.

Henna kyk vinnig om haar rond—sy is terug in haar ouma se slaapkamer. Die televisie speel nog steeds ‘n episode van ‘n sepie en die bed is steeds in ‘n warboel.

Henna kom orent, tel die pantoffels op en trek haar klere reguit.

“Henna! Wat draai jy so? Jou tee gaan koud word,” roep haar ma.

“Ek’s nou daar!” antwoord Henna.

Sy stap vinnig na die sonkamer waar haar ma en ouma op rottangstoele in die laaste wintersonnetjie van die dag sit.

“Hier is Ouma se pantoffels,” sê Henna. “Ek moes bietjie soek, maar ek het hulle op die ou end gekry. Laat ek Ouma help om hulle aan te trek.” Henna buk af en trek die pantoffels vir haar ouma aan. Dan steek sy haar hand in haar broeksak en voel die ronde vorm van ‘n plastiekknoop.

“Hier is ietsie vir Ouma,” sê Henna. Sy haal die knoop uit haar sak en gee dit vir haar ouma.

Ouma Henna kyk verbaas na die smaraggroen knoop. Haar oë blink en sy glimlag. “My gunsteling knoop! Ek het gedog ek het dit jare terug verloor. Dankie, my skat.”

“Ouma,” sê Henna. “Noudat ek hier bly en ons meer tyd saam gaan spandeer… kan Ouma my asseblief leer hoe om rokke te maak.”

Ouma Henna kyk opgewonde na Henna en sy knik haar kop. “Dit klink na ‘n uitstekende plan.”


© Marinda Kotze, 2025

Kontak my:
Kontak my gerus via epos by marinda@marindakotze.com indien jy enige navrae het of iets met my wil deel.


Sluit by my nuusbrief aan:

Indien jy daarin belangstel om meer van my Afrikaanse stories te hoor, oorweeg dit asseblief om in te teken op my Afrikaanse nuusbrief. Ek stuur net ‘n e-pos wanneer ek iets belangriks het om te vertel!