
Gerrit en sy beste vriend, André, verwag niks meer as ’n naweek van stowwerige hindernisbane en flou spanbou-aktiwiteite op ’n afgeleë plaas nie. Maar die nag het ander planne.
Laatnag word hulle wakker van ’n geluid wat die hare op hulle arms laat rys—’n dun, skril gekerm, soos ’n baba wat iewers tussen die skaduwees huil. Maar daar is geen babas op hierdie kamp nie. Wanneer die seuns uit hul tent sluip, lei die gehuil hulle dieper die pikswart bosse in. En wat daar op hulle wag, is geen verlore kind nie…
#riller #flitsverhaal
1,424 woorde / 5 bladsye / 7-12 minute leestyd
Iets Huil In Die Nag
Deur Marinda Kotze
Gerrit word wakker van iets wat hom teen sy lae rug stamp.
“Hei! Gerrit!” fluister André se beste vriend agter hom. “Het jy dit gehoor?”
“Ugh. Nee, ek het geslaap,” antwoord Gerrit, en rol om in sy slaapsak.
Hulle lê in ‘n groot tent saam met die res van die graad ses seuns. Hulle is vir ‘n naweek op ‘n plaas in Midrand op ‘n leierskapskamp. Nie Gerrit of André het enige ambisies om leiers te word nie. Hulle het ook geen lus om in modder deur hindernisbane te klim en lanterns te bekruip nie. Maar by die huis bly en eerder videospeletjies speel, was volgens hul ouers nie ‘n opsie nie.
“Dit het geklink soos ‘n baba of ‘n klein kind wat huil,” sê André.
“Daar is geen babas of klein kinders hier nie. Dis net jou verbeelding. Dalk het jy ‘n jakkals gehoor? Of ‘n uil?”
“Nee, dit was definitief nie ‘n uil nie en ek weet nie hoe jakkalse klink nie, maar ek dink nie dit was een nie.”
‘n Sagte geroggel laat André en Gerrit omkyk—maar dis net Cassie wat op sy rug lê en oopmond snork.
“Probeer net slaap, oukei?” sê Gerrit effe geïrriteerd en druk sy kop onder die flap van sy slaapsak toe. Hy maak sy oë toe en probeer om aan die slaap te raak. Dis nou weer doodstil, behalwe vir die ritmiese geluid van sy eie asemhaling en André wat ongemaklik rondrol in sy slaapsak.
‘n Hoë, ritmiese geween klink op van êrens buite. Gerrit hou sy asem op en luister.
“Hoor jy dit? Dit klink nader as die vorige keer.” André pluk die slaapsakflap van Gerrit se kop af.
Die geween klink of dit vir ‘n oomblik onderbreek word deur ‘n skerp asemskep, dan ‘n gesnik wat geleidelik wegsterf.
“Dit kan tog nie ‘n jakkals wees nie, kan dit?” fluister André.
Voor Gerrit kan antwoord hoor hy ‘n trillende gehuil. Dit klink dringend, soos ‘n smeek om hulp eerder as hartseer.
“Dalk moet ons gaan kyk. Miskien het iemand uitgegaan en seergekry?” André begin uit sy slaapsak klim, maar Gerrit stop hom.
“Nee, ons mag nie. Meneer Van Dyk het gesê ons mag nie in die aand uitgaan nie.”
“Maar ons kan nie sit en luister hoe iemand huil en seer het nie. Ons moet iéts doen,” sê André en klim verder uit sy slaapsak. “Kom saam, ek het ‘n flits.”
Die gehuil het vir ‘n oomblik opgehou, maar Gerrit hoor steeds ‘n fyn gesnik. Hy skuif orent en wil nog protesteer, maar André is al klaar uit sy eie slaapsak en sluip nou tussendeur die ander slaapsakke, op pad na die tent se lapdeur.
“Ugh, oukei. Wag vir my!” roep-fluister Gerrit en spring uit sy slaapsak. Hy is versigtig om nie per ongeluk op een van die ander ouens se slaapsakke in die donker te trap nie.
André skuif die lapdeur van die tent oop. Dis stikdonker. In die verte, by die opsigter se huis, hoor Gerrit ‘n hond kef. ‘n Silwer halfmaan wat effens wegkruip agter ‘n wolk. ‘n Paar helder sterre pryk in die hemelruim. André skakel sy flitslig aan en flits lukraak rondom die tent. ‘n Koel briesie sny deur Gerrit se katoenslaapklere. ‘n Rilling bly by sy rug af. Gerrit kry skielik die gevoel dat iemand — of iets — hulle tussen die bome dophou.
“Ek dink nie ons moet ver loop nie. Miskien moet ons net gaan klop aan Meneer Van Dyk se deur en dan sê ons vir hom—”
‘n Nat, keelagtige getjank kom van êrens naby.
“Wat was dit?” André wys met sy flits na ‘n ry witstinkhout bome ‘n paar meter op die grondpad van hulle af.
“Daar is net bome. Kom, Meneer Van Dyk se chalet is net hier—”
“Wat is daar?” André se flitslig bly tot stilstand op ‘n donker vorm tussen die bome.
“Dis seker maar net—” ‘n donker skaduwee beweeg blitsvinnig agter een van die bome in.
“Daar! Kyk! Dis iets!” André hardloop in die rigting van die bome.
“Nee, moenie!” Gerrit roep agterna, maar dis klaar te laat. André is reeds amper tot by die bome. Gerrit hardloop huiwerig agterna.
Die geel-wit lig van André se flitslig wip-wip oor die bome soos hy hardloop. Dan hou André skielik op met hardloop en staan botstil.
Gerrit draf nader. “Ons moet liewers omdraai, netnou kom ons in die—” Eers dan kyk Gerrit behoorlik na wat die lig van die flitslig verhelder: Net ‘n paar tree van hulle af is ‘n pikswart harige figuur. Dit staan op twee baie lang bene. Sy boggel rug is effe kromgetrek. Twee koeëlronde geel sirkeltjies weerkaats in die flits se lig.
Is dit… oë? wonder Gerrit.
Die twee oë knip terselfdetyd vir ‘n breukdeel van ‘n sekonde. Wanneer hulle weer oopgaan, is hulle bloedrooi en gloeiend.
André gil en laat val sy flits. Nou is dit pikdonker. Gerrit het geen idee waar die donker figuur nou is nie. Hy hoor ‘n geroggel êrens voor hom. Hy hoor hoe André wegspartel oor die grondpad.
‘n Diep, spoegerige grom is reg agter hom. Die reuk van vrot vleis is skielik in die lug.
Gerrit hardloop in die rigting waarvandaan hy dink hy en André afgekom het. Die punt van sy regtervoet hak vas oor ‘n boomwortel en hy val op sy handpalms en knieë op die grondpad.
Gerrit gil van die pyn, maar probeer so gou as moontlik weer op sy voete kom. Hy hardloop nog ‘n paar treë.
Iets grof, soos stekelrige lang hare, waai oor die agterkant van sy bene. Hy spartel om regop te kom. Sy voete gly-gly oor die grond en klippies. Hy kry net nie vastrapplek om op te kom nie. Iets nat drup op die agterkant van sy knie en die vrotvleisreuk ruik nou sterker. Hy kom net-net orent toe iets skerp aan die agterkant van sy kuite kap en hom omgooi. Gerrit rol oor die grondpad en land op sy rug.
‘n Diep keelgrom, “Rrrrhhh,” rol uit die monster se wye bek.
Hy kyk op en sien die silhoeët van die harige gedierte reg bo hom. Die ding se kop kantel na regs, asof hy sy prooi mooi wil bekyk. Gerrit hou sy asem op. ‘n Lang rooi tong steek uit en voel-voel aan Gerrit se hemp. Hy knyp sy oë toe. Hy wil skree, maar niks kom uit nie.
Êrens begin honde kwaai te blaf. ‘n Man skree iets en ‘n skerp soeklig flits voor Gerrit verby. Die harige gedrog kyk op en loer oor sy skouer. Gerrit gebruik die geleentheid om agteruit te kruip.
Die honde se aanhoudende geblaf klink nou al nader.
Twee yslike swart vlerke, wat lyk soos verlepte swart leer, vou oop oor die gedierte se skouers. In ‘n oogwink skiet die ding in die lug op met ‘n geluid soos seile wat in ‘n storm ruk.
Gerrit hoor die swaar geflap van vlerke ver bo sy kop.
“Gerrit, wat maak jy buite die tent?” Meneer Van Dyk skree half uitasem soos hy aangehardloop kom. “Het jy nie geluister toe ek gesê het dat niemand uit hulle tente mag gaan in die nag nie?”
“Meneer, daar was so ding hier buite. ‘n Harige monster! Ek… ek en André het iets vreemds gehoor. Ons het gedog iemand roep om hulp. Ons wou net—”
“’n Harige monster. Ag asseblief, Gerrit. Moet nou nie nonsens praat nie. Dis net die opsigter se Duitse herdershonde. Daar is niemand anders hier buite behalwe jy en André nie.”
André staan by die ingang van hulle tent. Sy gesig is ekstra bleek in die maanlig.
“Maar Meneer—” Gerrit wil nog verder probeer verduidelik, maar Meneer Van Dyk wil niks hoor daarvan nie.
“Jy het sopas gemaak dat jou groep vyftig punte verloor. Ek is seker hulle gaan almal baie in hul noppies met jou wees as hulle dit môre oggend uitvind tydens ontbyt. Nou skud jouself af en gaan klim in jou slaapsak. Ek wil niks verder van jou hoor nie!” Meneer Van Dyk gluur Gerrit kwaai aan.
“Ja Meneer,” sê Gerrit terwyl hy die los sand en klippies van sy slaapklere afskud. Hy stap terug na die tent. André het reeds geluidloos in die tent in verdwyn. Gerrit stop net voor die tent se ingang en kyk op na die hemelruim. Het ek my regtig dit alles verbeel? wonder hy. Dan sien hy iets uit die hoek van sy oog: ‘n donker figuur met lang vlerke vlieg voor die silwer halfmaan verby en verdwyn dan agter die akasiabome.
© Marinda Kotze, 2026
Kontak my:
Kontak my gerus via epos by marinda@marindakotze.com indien jy enige navrae het of iets met my wil deel.
Volg my op sosiale media:
Facebook | X (Twitter) | Instagram
Sluit by my nuusbrief aan:
Indien jy daarin belangstel om meer van my Afrikaanse stories te hoor, oorweeg dit asseblief om in te teken op my Afrikaanse nuusbrief. Ek stuur net ‘n e-pos wanneer ek iets belangriks het om te vertel!
Koop vir my ‘n koppie koffie:
As jy my stories geniet en my graag wil ondersteun, oorweeg dit asseblief om vir my ‘n koppie koffie te koop via Ko-Fi of om ‘n donasie te maak na my PayPal.
Ko-fi: https://ko-fi.com/marindakotze
PayPal: https://paypal.me/MarindaKotze?country.x=BG&locale.x=en_US