
Lisa se lewe is perfek gerieflik – ’n wêreld van virtuele vergaderings, digitale vriende en bestemmings wat sy besoek sonder om haar huis te verlaat. Maar wanneer drome van ’n kokerboomwoud haar begin agtervolg, besef sy iets kort in haar lewe…
Ontkoppel is vir die eerste keer gepubliseer in Naskrif se September 2023 uitgawe (op bladsye 88 tot 89): https://nskrywershuis.co.za/3d-flip-book/naskrif-september-vol-9/
#wetenskapsfiksie #flitsverhaal
1,069 woorde / 4 bladsye / 4-6 minute leestyd
***Blaai na onder vir bonusinhoud, insluitend: ’n speellys, ’n Pinterest-estetiese stemmingbord en blogplasings wat met die storie verband hou***
Ontkoppel
Deur Marinda Kotze
Die droë gras ritsel in die wind om Lisa se voete. Voor haar lê ‘n oop wêreld. Meer spasie as wat sy nog ooit om haar gehad het. Die lug is blouer as wat sy dit al ooit kon onthou. Kokerbome, rotse, en klossies veldgras so vêr as wat sy kan sien. Die son brand warm op haar vel. Haar skaduwee maak ‘n kort streep op die rotse.
Maar dan begin die skaduwee te verleng. Dit begin op te styg vanaf die rotse en in ‘n boog om haar te draai. Lisa probeer dit keer, maar daar is niks om aan te vat nie, om fisies teen terug te stoot nie. Die skaduwee draai om Lisa soos ‘n vet, swart luislang. Sy probeer haar oë op die naaste kokerboom hou, maar dit verdwyn voor haar wanneer die skaduwee ‘n laaste keer om haar draai.
***
Die wekker se skril kreet ruk Lisa uit haar slaap wakker. ‘n Moeë arm strek vanonder die kombers uit om die wekker stil te maak. Die ander arm strek uit na die skynwerklikheidskopstuk wat op sy laaiplatform lê. Lisa hou die kopstuk bo-oor haar kop, trek die band met haar regterhand terug agter haar kop en laat sak die lense voor haar oë in plek met haar linkerhand. Die halfdonker slaapkamer word in ‘n oogwink verlig met gloeiende ikone van toepassings: TV, Musiek, Nuus, E-pos. Haar skedule hang aan die regterkant voor haar en wapper in die lug, opsoek na haar aandag. Sy het oor 45 minute ‘n vergadering en vanaand ontmoet haar boekklub.
Lisa wys met haar wysvinger na die Safari toepassing en bring vinnig die punte van haar regterhand se wysvinger en duim bymekaar om die webleser oop te maak. Die ikoon wikkel in reaksie daarop en die webleser vul dan die wêreld voor haar op.
‘n Klokkie lui vanuit die kombuis. Dit is die koffiemasjien wat laat weet dat haar koffie reg is.
Soos Lisa deur die huis stap oppad kombuis toe, trek die gordyne hulself oop en die ligte skakel hulself aan. Sy gaan sit by die kombuistafel.
“Siri, waar kom kokerbome voor in Suid-Afrika?” vra Lisa. ‘n Kaart van Suid-Afrika verskyn voor haar, langs ‘n rits foto’s van kokerbome en woestyn landskappe. ‘n Robotiese stem antwoord: “Kokerbome kom in die Noord-Kaap voor. Daar is twee kokerboomwoude in Suid-Afrika, een in Kenhardt en die ander in Niewoudtville.” Twee rooi kolletjies dui die woude se liggings op die kaart aan.
Lisa was nog nooit in die Noord-Kaap nie. Tog, vir die laaste paar weke, droom sy aanhoudend van ‘n veld vol kokerbome. Die drome voel by die aand meer werklik. Alhoewel sy partykeer bietjie verder deur die veld gestap kry, eindig die droom altyd op dieselfde manier.
‘n Singende wekkertjie verskyn skielik regs bo in haar visie. Sy moet begin regmaak vir haar vergadering. Met ‘n vinnige waai van haar regterhand vee sy die kokerboom soekresultate voor haar weg.
***
Haar laaste vergadering vir die dag het pas klaargemaak toe Lisa se voordeurklokkie lui. “Woolies aflewering!” kondig die voordeur aan. Lisa is net betyds om te sien hoe die hommeltuig wat haar kruideniersware afgelaai het weer opstyg en wegzoem.
Oorkant die straat staan haar buurman, Christo, gebukkend oor sy Automower robot grassnyer. Die robot se neon groen liggies skakel met eens aan. Christo kyk op, sien Lisa, en waai vir haar. Sy swaai vinnig die een kruidenierswarepakkie oor na haar linkerhand en waai haastig terug. Sy het lanklaas vir Christo gesien. Om die waarheid te sê, sy het lanklaas enige iemand in persoon gesien.
***
Lisa is die eerste persoon om in te teken by die virtuele boekklub. Terwyl sy gemaklik in haar slaapklere agteroor leun op haar sitkamerbank, sit haar avatar, geklee in ‘n blink skemerkelkie rok, kiertsregop op ‘n kroegstoel in ‘n luukse restaurant. Ligte elektroniese musiek speel in die agtergrond terwyl reklame boodskappe by haar verby flits vanuit die restaurant se vensters.
Een vir een begin ander lede van die boekklub die restaurant binnekom. Alhoewel die klub al vir jare bestaan het Lisa nog nooit die ander lede in persoon ontmoet nie.
Lisa se avatar is skraal, met lang blonde hare en ‘n gloeiende vel. Sy het dit lank terug so gestel want sy het gereken dis min of meer akkuraat (of te wel, dis hoe sy kan lyk as sy net meer oefen).
Almal gesels entoesiasties oor die maand se boek, maar Lisa sukkel om te konsentreer op die gesprek. Sy wonder of sy die enigste een is wie nie heeltemal soos hul avatar lyk nie en soms droom van kokerbome en woestyn landskappe.
Na die boekklub, blaai Lisa deur haar toepassings tot sy by die Virtuele Toeris toepassing uitkom. ‘n Glimlaggende toergids verskyn voor haar en kondig aan dat die toepassing meer as ‘n miljoen bestemmings insluit. Die plekke is altyd daar vir haar om enige tyd te besoek, gerieflik vanuit haar skynwerklikheidskopstuk.
“Kokerboomwoud” beveel Lisa. Die sitkamer om haar verdwyn geleidelik en word vervang met ‘n uitgestrekte kokerboomwoud. Sy draai om haar rond en neem die landskap in. Die son skyn helder neer op die rotse, maar sy voel nie die warmte op haar vel nie. Die wind waai oënskynlik, want sy hoor die gesuis in haar oorfone, maar sy voel nie die wind oor haar vel streel nie. Dit lyk soos haar droom, maar dit voel nêrens naastenby daaraan nie. Teleurgesteld haal sy die kopstuk af.
***
Die wekker se skril stemmetjie het skaars begin skree toe Lisa hom met een vinnige tik van haar vinger stil maak. Sy lê al ‘n rukkie lank wakker.
Sy trek die skynwerklikheidskopstuk oor haar kop en gaan dadelik na haar E-posse toe. ‘n Swefende sleutelbord kom voor haar tevoorskyn en sy begin ‘n kort boodskap tik vir haar baas.
Daarna selekteer sy ‘n kar huur toepassing. Die koffiemasjien roep haar, maar sy het nie vanoggend tyd vir koffie nie. Sy haal die skynwerklikheidskopstuk af en trek haar stowwerige tas van die klerekas af.
Die selfbesturende huurmotor draai by haar oprit in net soos sy die laaste klere inpak. Sy sluit die kar se deure oop met haar vingerafdruk, sit haar tas op die agterste sitplek neer, en klim by die bestuurdersitplek in. Die stuurwiel draai vanself en die kar begin in trurat uit die oprit te ry. Die skerm op die kar se paneel wys haar gekose roete aan en sy druk op die bevestingsknoppie. Bestemming: Kenhardt.
© Marinda Kotze, 2023
Kontak my:
Kontak my gerus via epos by marinda@marindakotze.com indien jy enige navrae het of iets met my wil deel.
Volg my op sosiale media:
Facebook | X (Twitter) | Instagram
Sluit by my nuusbrief aan:
Indien jy daarin belangstel om meer van my Afrikaanse stories te hoor, oorweeg dit asseblief om in te teken op my Afrikaanse nuusbrief. Ek stuur net ‘n e-pos wanneer ek iets belangriks het om te vertel!
Koop vir my ‘n koppie koffie:
As jy my stories geniet en my graag wil ondersteun, oorweeg dit asseblief om vir my ‘n koppie koffie te koop via Ko-Fi of om ‘n donasie te maak na my PayPal.
Ko-fi: https://ko-fi.com/marindakotze
PayPal: https://paypal.me/MarindaKotze?country.x=BG&locale.x=en_US
Bonusinhoud vir Ontkoppel:
Speellys vir Ontkoppel:
Blogplasings oor Ontkoppel:
AFRI-Allegaartjie: ‘n Kortverhaalbundel
[Scroll down for the English translation of this post] Twee van my kortverhale, “Ontkoppel” en “Charlie”, is in Ns. Skrywershuis se nuwe kortverhaalbundel, AFRI-Allegaartjie, gepubliseer. In 2023 en 2024 het Ns. Skrywershuis via hul tydskrif, Naskrif, ‘n kortverhaalkompetisie op hul Facebookblad gehad wat lesers uitgedaag het om kortverhale te skryf na aanleiding van fotobeelde. Ek…
Ontkoppel / Disconnect
(scroll down for the English version of this post) My kortverhaal “Ontkoppel” is in die September 2023 uitgawe van Naskrif gepubliseer. Dis geinspireer deur die foto hierbo, die eerste Apple Vision Pro demonstrasie videos wat ek gesien het ‘n paar weke tevore asook al die bohaai wat oor die Metaverse gemaak was en die remote…


Leave a comment