Ek laat weet net gou vir almal dat daar ‘n nuwe Afrikaanse jeugflitsverhaal vir 9 tot 13 jariges op my webtuiste beskikbaar is:

Het jy al ooit gewonder wat sluip rond buite jou tent?
Gerrit en sy beste vriend, André, verwag niks meer as ’n naweek van stowwerige hindernisbane en flou spanbou-aktiwiteite op ’n afgeleë plaas nie. Maar die nag het ander planne.
Laatnag word hulle wakker van ’n geluid wat die hare op hulle arms laat rys—’n dun, skril gekerm, soos ’n baba wat iewers tussen die skaduwees huil. Maar daar is geen babas op hierdie kamp nie. Wanneer die seuns uit hul tent sluip, lei die gehuil hulle dieper die pikswart bosse in. En wat daar op hulle wag, is geen verlore kind nie…
Laai Iets Huil In Die Nag hier af:
Ek het ook begin om leesgidse te maak vir my jeugflitsverhale. Hierdie leesgidse sal leerders help om die stories beter te verstaan en daaroor na te dink. Dit sluit begrips- en besprekingsvrae, woordeskataktiwiteite en verskeie skryf- en kreatiewe aktiwiteite in.
Op die oomblik is daar net leesgidse vir Die Bure en Die Tydgestikte Klerekas. Die leesgids vir Iets Huil In Die Nag is op pad.
As jy enige vrae vir my het, of net kommentaar wil lewer oor die stories, stuur gerus vir my ‘n epos by marinda@marindakotze.com
Lekker lees!




Leave a comment