
Wanneer Karla by haar oom se vreemde, propvol huis oorslaap, ontdek sy gou dat daar meer tussen die ou meubels en kunswerke skuil as wat sy gedink het.
#riller #flitsverhaal
1,518 woorde / 9 bladsye / 7-15 minute leestyd
Oom Filip se Huis
Deur Marinda Kotze
Karla sit by ‘n groot eetkamertafel van geelhout in haar oom Filip se huis saam met haar ouers.
“Hoe gaan dit met die besigheid, Filip?” vra Karla se pa.
“So-so. Soos jy kan sien, is my huis gepak van die vloer tot die plafon met ‘n mengelmoes van goed wat nie verkoop nie. My huis is nou maar vir eers my stoorkamer,” sê Oom Filip en skuif die melktert nader. “Nog melktert vir jou, Karla?”
“Nee dankie, Oom. Dit was baie lekker, maar ek is nou knuppeldik,” sê Karla en skuif haar stoel agteruit. “As julle my asseblief sal verskoon.”
“Ja, natuurlik, my engel, kry jouself solank reg vir bed,” sê haar ma.
Karla staan op en skuif haar stoel onder die tafel in. Sy’s nie soseer moeg nie, meer verveeld. Oom Filip is ‘n handelaar in kuns en antieke meubels in die klein Vrystaatse dorpie van Parys. Sy hou van kuns, maar sy is regtig nie lus om die hele aand te sit en luister na haar ouers en oom se vervelige gesprekke oor sy besigheid nie.
Sy drentel in die lang donker gang af na een van die gastekamers wat vir haar opgemaak is. Oom Filip is ‘n oujongkêrel en sy huis lyk maar woes. Orals staan stowwerige bokse en kratte en meubels, soms op mekaar gestapel tot by die plafon. Ou skilderye hang orals teen die mure. Sommiges is effens verslete met watervlekke. Ander lyk vaal van die stof. Elkeen het ‘n prys wat op ‘n stuk maskeerband opgeskryf is. Tussenin krul die verf plek-plek van die mure af.
Karla skuifel-skuifel verby die laaste paar bokse tot by haar kamer. Sy skakel die lig aan. ‘n Gedempte geel lig verlig die klein vertrek.
Karla gaan sit op die punt van die bed en bekyk die kunswerke wat teen die mure van haar kamer hang: Daar is ‘n stillewe van ‘n bak vrugte, ‘n hele paar landskappe, ‘n baie ou portret van ‘n jong seuntjie, ‘n skildery van ‘n familie wat piekniek hou op die strand, ‘n groot skildery van drie marionetpoppe wat op ‘n houtbankie sit, ‘n skildery van ‘n gloeiende sonsondergang, ‘n portret van ‘n dansende ballerina, en ‘n reeks klein skilderytjies van ou skepe. Die ballerina is beslis my gunsteling, besluit Karla terwyl sy haar verwonder aan die ballerina se fyn pers rok.
Die skildery van die marionetpoppe is by verre die vreemdste een. Die poppe is in ’n ou harlekynstyl uitgebeeld. Een het ’n swart-en-blou pakkie aan wat soos ’n polisie-uniform lyk. Die middelste een dra ’n rooi-en-wit geruite pakkie, met ’n wye geel kraag om sy nek en ’n lang groen mus met ’n goue tossel. Die marionet het ’n lang, snawelagtige neus en ’n skerp, gepunte ken wat sy gesig amper soos ’n sekelmaan laat lyk. Hy het ‘n wye, skewe glimlag wat sy tande effens ontbloot. Langsaan is ‘n vroulike marionet met ‘n blou-en-pienk rokkie en ‘n wit mussie op haar kop. In die middel van die portret, in sierskrif, staan daar in Italiaans geskryf: Le marionette dello spettacolo inglese di burattini Punch e Judy.
Wat ‘n eienaardige portret, dink Karla. Die poppe lyk so lelik, veral die middelste een. Wie sal nou só ‘n skildery wil hê? Geen wonder dit staan hier en nie in Oom Filip se winkel nie, dink Karla.
Sy besluit om die res van die huis ‘n bietjie verder te verken en te kyk watter vreemde portrette daar nog hang. Sy loop in die gang af, versigtig dat haar rok nie vashaak aan een van die kratte se skerp hoeke nie. Die gang is amper te donker vir haar om die skilderye behoorlik te sien, maar hier en daar sien sy nog stillewes van vrugte, sierlike portrette van blomme en imposante mense wat in hul deftigste uitrustings geklee is.
Dan kom sy by die sitkamer, oftewel dit wat veronderstel is om die sitkamer te wees. Die hele vertrek is vol meubels wat met wit lakens toegemaak is. Daar is skaars plek vir Karla om deur die vertrek te stap. ‘n Groot kandelaar wat van kristal en skulpe gemaak is, hang in die middel van die vertrek. Tog is die vertrek halfdonker, want omtrent die helfte van die gloeilampies in die kandelaar werk nie.
Karla loop stilletjies in die sitkamer in en bewonder ‘n groot skildery van ‘n trop olifante. Een van die groot vensters in die vertrek is oop, en die gordyn bol uit en fladder soos die wind dit waai. Donderweer rammel sodat die huis se dak tril.
Ssskrr.
Karla hoor ‘n geritsel agter haar. Sy draai om, maar sien niks buitengewoons nie. Dit was seker maar die wind, dink sy en stap tussen die banke deur. Karla buk en lig saggies een van die lakens op om te loer hoe die meubelstuk onder die laken lyk. Dit is ‘n donkerbruin gestikte leerbank.
Krrrsssk!
Die wind ruk die venster se gordyn oop en iets vlieg teen Karla se skouer vas. Karla laat die laken val en spring regop. Die ding wat teen haar vasgevlieg het, is ’n nat akkerboomblaar. Dit plak teen die ronding van haar skouer vas. Karla vee dit van haar af en gee ‘n sug van verligting.
Hehehe.
Wat was dit? Dit het geklink soos ‘n kort, parmantige laggie.
“Hallo, wie’s daar?” vra Karla verskrik. Niemand antwoord nie. Sy hoor wel haar ouers en oom se stemme, maar hulle gesels nog steeds in die eetkamer.
Sy loop stadig tussen die banke deur na die oop venster. Die wind waai weer die gordyn oop en reënspatsels sproei oor haar gesig. Sy trek die venster toe. Dis beter, dink Karla.
Tik-tik-tik. Tik-tik.
Karla draai vinnig om. Net betyds om ‘n kort skaduwee teen een van die sitkamer se mure te sien verbyflits.
Karla kan nie onthou dat Oom Filip ooit enigiets van ‘n troeteldier genoem het nie.
Wat op dees aarde was dit? Miskien moet ek maar teruggaan na my slaapkamer toe. Hierdie ou huis gee my die rillings.
Karla volg ‘n nou paadjie tussen die lakenbedekte banke, terug na die gang. Sy kry ‘n snaakse gevoel wat teen haar rug af gly – asof iemand haar dophou. Sy begin vinniger loop. Haar kamer is net ‘n paar vertrekke weg.
Tik-tik-tik.
Die getik is in die gang, agter haar.
Karla probeer dit ignoreer en stap vinniger.
Tik-tik.
Tik-tik-tik.
Tik-tik-tik-tik-tik.
Die getik is nou nader, amper by haar.
Karla draai om.
‘n Klein mannetjie in ‘n rooi-en-wit geruite pakkie staan ‘n paar treë voor haar. Hy draai sy sekelmaanvormige gesiggie na haar en grinnik met sy wye, skewe mond.
Dis die middelste marionet in een van die portrette in my kamer, besef sy. Karla gil en hardloop in die gang af. “Ma! Pa!”
Terwyl sy hardloop, loer sy oor haar skouer, en sien hoe die marionet agter haar aanhardloop. Die goue tossel op sy lang mus swaai wild rond soos hy nael.
Hehehehe! gil die marionet. Hy lig sy armpies op en begin nóg vinniger hardloop.
Sy strompel vorentoe en val amper teen ‘n stapel bokse. Dan hoor sy nog voetstappe aankom.
“Karla! Karla, waar is jy? Wat is fout?” Haar ouers kom albei aangehardloop vanuit die eetkamer.
“Daar’s ‘n marionet… hy… hy het my gejaag… hy… hy….” Karla kyk in die gang af. Daar is niks in die gang behalwe stapels bokse.
“’n Marionet, sê jy?” vra Oom Filip. Hy deins effens terug en loer huiwerig in die gang af.
“Ja! Hy was net hier. Regtig!” sê Karla uitasem.
Haar pa stap in die gang af en loer agter die bokse. “Ek sien niks nie, my skat.”
“Hierdie is ‘n baie ou huis, met baie donker hoekies en vreemde kunswerke. Jou verbeelding het dalk net met jou op loop gegaan,” paai haar ma terwyl sy Karla se kop streel.
“Nee, hy was regtig daar! Ek het my dit nie verbeel nie.” Karla hou vol dat sy dit gesien het, maar haar ouers lyk skepties.
Oom Filip bly doodstil en vryf sy hande teen mekaar.
“Kom, ek maak vir jou ‘n koppie tee. Dit sal jou beter laat voel,” sê haar pa en vat haar hand.
Hy maak vir haar ‘n koppie tee en laat haar by die eetkamertafel sit en dit drink. Die tee help en na ‘n rukkie voel Karla meer gerus.
Dit was dalk net my verbeelding, dink sy. Marionette kan tog nie regtig op hul eie beweeg nie. Die huis is nogal vreemd en die lang rit Parys toe het my dalk ‘n bietjie uitgeput.
Na ‘n ruk voel sy slaperig. Haar pa dra haar na haar slaapkamer toe en sit haar in die bed. Hy hou die deur op ‘n skrefie oop, sodat ‘n dun straal lig van die gang by haar kamer inskyn. Die lig wat deur die skrefie val, vorm ’n geel streep van die bed tot teen die oorkantste muur. En oor ’n stel skilderye.
Een van die skilderye is die een van die marionette.
Maar dan besef Karla dat daar iets anders is omtrent die skildery.
Daar is ‘n skeur reg deur die middel van die portret.
En die middelste marionet is nie daar nie.
© Marinda Kotze, 2026

Teken in op my nuusbrief en ontvang Iets Skuil In Die Donker – ‘n bundel van al my gratis Afrikaanse jeugverhale tot op datum.
Die bundel bevat: Die Bure, Die Tydgestikte Klerekas, Iets Huil In Die Nag en Oom Filip se Huis.
Die nuusbrief sal net kennisgewings bevat oor my Afrikaanse jeugverhale. Ek stuur net nuusbriewe uit wanneer ek iets belangriks het om te deel.
OOK BINNE DIE EBOEK: Inligting oor hoe jy kan deelneem aan ‘n spesiale kompetisie!
Kontak my:
Kontak my gerus via epos by marinda@marindakotze.com indien jy enige navrae het of iets met my wil deel.
Volg my op sosiale media:
Facebook | X (Twitter) | Instagram
Koop vir my ‘n koppie koffie:
As jy my stories geniet en my graag wil ondersteun, oorweeg dit asseblief om vir my ‘n koppie koffie te koop via Ko-Fi of om ‘n donasie te maak na my PayPal.
Ko-fi: https://ko-fi.com/marindakotze
PayPal: https://www.paypal.com/paypalme/MarindaKotze


